ONS IS … KAROS

 

Daar’s baie klippe in die Groot Karoo

 

Daar’s baie klippe op hierdie plaas

Maar hulle sê die werk is skaars

Ek dink ek sal maar ’n rukkie bly

Hier in die Kamdeboo-kontrei

 

Ek glo die muur wat ek hier gaan bou

Sal hierdie werf baie netjies hou

Ons moet die bokke van die skape skei

Hier in die Kamdeboo vallei

 

Om ysterklippe bymekaar te maak

Is mos ’n doodgewone taak

Party lê onder, party lê bo

Daar’s baie klippe in die Groot Karoo

 

Ek rus my knieë in die warm sand

Die vonke spat soos ek klippe kap

Dis nie my eerste muurtjie nie

Ek is nie meer ’n laaitie nie

 

My waterpas is ’n bietjie krom

Het met ’n halfmaan hier aangekom

Die klippe lê soms onderstebo

In hierdie deel van die Groot Karoo

 

Ek trek ’n streep in die warm sand

Die tipe werk vang my soms onkant

Op sommige plase rus ’n man se knie

Nie baie lekker op die aarde nie

 

En eendag na ’n sekelmaan

Sal ek ook voor jou hek kom staan

Met my pluiskeil wat ek liggies soen

Met my ’n donkie wat ek Dinsdag noem

 

Woorde: Christopher Torr

Klein Karoo

 

Klein Karoo, verre land van verlatenheid

Klein Karoo, waar die Swartberge troon

In die Klein Karoo het jy steeds nog na my verlang

Ek kom terug na jou, by jou wil ek altyd woon

 

Klein Karoo, dis waar ek jou liefde vind

Elke aand stap ons hand aan hand

Saam met jou kan ek van die toekoms droom

In die Klein Karoo wil ek met jou woon

 

Sien jy die aandblom staan, die sekelmaan, die wasigheid wat dit ontvou

So is my heimwee saans na jou daarom kom ek terug na jou

 

Klein Karoo, verre land van verlatenheid

Klein Karoo, waar die Swartberge troon

In die Klein Karoo het jy altyd na my verlang

Ek is weer terug by jou, by jou wil ek altyd woon

 

Pluk in die laat middag 'n gousblom af, kyk hoe die blare toe vou

Net soveel dae bly nog oor dan is ek weer by jou

 

Klein Karoo, dis waar ek jou liefde vind

Elke aand stap ons hand aan hand

Saam met jou kan ek van die toekoms droom

In die Klein Karoo wil ek met jou woon

 

Woorde: Sias Reynecke

Soos duidelik uit die pen van vele digter en liriekskrywer, kom pluk die Karoo aan ‘n mens se hartsnare en woel hy homself sommer vinnig onder jou vel in. Daar is ‘n aardsheid en opregtheid aan die Karoo. Hier is spasie … en hier is tyd. Die Karoo is ‘n plek waar jy jou kind wil grootmaak; vry, ongeskonde, gebalanseerd. En dis die rede hoekom Selme-Louise van Wyk, die hoof van Karos Akademie, tussen die Swartberge en dorre landskap ‘n onderrig-oase kom vestig het. ‘n Droom om Karoo-kinders die kwaliteit onderrig te bied wat kinders in die groot stede geniet – uit die gerief en sekuriteit van hul ouerhuis.

 

Share by: